Die eiland is sowat drie miljoen jaar gelede uit lawa gevorm, toe die vulkaan Piton des Neiges uit die Indiese Oseaan verrys het, en daar is baie geologiese ooreenkomste met die groot Hawaii-eiland van die gelyknamige Amerikaanse eilandgroep, wat net soos Réunion op 'n aktiewe vulkaangordel in die oseaan geleë is.
Die hange van die vulkaniese bergpieke is dig bebos; die meeste landbougebiede en menslike nedersettings is in die kusvlaktes van die omgewing geleë.
Aanvanklik was koffie die hoofsaaklike produk van die eiland, maar nadat tropiese storms in die jare 1806 en 1807 die koffieplantasies volledig verwoes het, het die meeste koffieboere na suikerriet omgeskakel.
Eers in die tyd van die Franse kolonisasie het Franse setlaars hulle op die eiland gevestig en is slawe uit Madagaskar, Oos-Afrika en Indië na Réunion geneem om op die plaaslike vanielje- en suikerriet-plantasies te werk.
