Die aantal MIV/VIGS- en tuberkulose-infeksies is een van die hoogstes in die Russiese Federasie, terwyl Kaliningraders een van die laagste lewensverwagtinge in die land het.
Die sowat 400 000 Duitse bewoners het merendeels gevlug of is kort ná die oorlog verdryf; die 100 000 bevreesde Duitsers wat nog in die stad aangebly het, was merendeels bejaardes, vroue en kinders wat dikwels die doods- en bloedprys moes betaal vir die gruweldade wat deur Duitsers in die Sowjetunie gepleeg is.
Die ontbinding van die Sowjetunie en die toeganklikmaking van die Kaliningradse gebied vir besoekers uit ander landsdele en die buiteland het 'n openbare diskussie oor die stadsnaam gestimuleer.
Die Duitse stad Königsberg het 'n belangrike lid van die Hanse-bond, setel van die Duitse Ridderorde en hoofstad van die Duitse provinsie Oos-Pruise geword.
Die Sowjet-pers het die Rooi Leër tot wraak opgeroep, en alhoewel Russiese soldate en owerhede nie deurgaans 'n vyandelike houding teenoor die nou regtelose Duitse bevolking ingeneem het nie, was verkragtings van vroue en geweldpleging teen Duitse bewoners aan die orde van die dag.
