Sy "Boeke van die Poolse volk en van die Poolse pelgrimskap", wat in die herfs van 1832 voltooi is, het al in die volgende jaar as Engelse, Franse en Duitse vertalings verskyn waarby die profetiese en enigmatiese styl van die oorspronklike teks noukeurig in die vreemde tale weergegee is.
In sy Przedmowa ("Voorwoord") en in die ballade Romantyczność ("Romantiek") lewer hy 'n pleidooi vir 'n nuwe soort digkuns wat inspirasie in die volksgeloof en volksverhale, gevoelens en verbeelding, die natuur en die onsigbare sou vind - en die wêreld juis nie deur die bril van 'n geleerde sou bekyk nie.
As publisis het Mickiewicz binne die stroming van Romantiese messianisme geskryf - 'n denkrigting wat ook in die werke van Franse filosowe soos Saint-Martin, de Maistre, de Lamennais of die opvolgers van Saint-Simon en in die Duitse filosofie en literatuur uitblink.
